Brandstof in draagbare houers – wat jy moet weet

  • 05 Augustus 2021
  • 1816
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantashe, het in terme van die Wet op Petroleumprodukte van 1977, op 15 Julie 2021 aangekondig dat dit voortaan onwettig sal wees om brandstof in draagbare houers aan te koop. Dié verbod is ingestel om paniekaankope van brandstof te stuit weens vrese oor moontlike brandstoftekorte in Gauteng en KwaZulu-Natal na die geweldpleging vroeër in die maand.

Dié hersienning fokus op die omskrywing van die woord ‘houer’ en meer nog, die vereistes waaraan ʼn geskikte draagbare houer moet voldoen alvorens brandstof daarin gestort mag word. Vir die doeleindes van die regulasies verwys die woord ‘houer’ gevolglik na iets wat nie goedgekeur is vir die opgaar of vervoer van petrol of diesel ingevolge SABS-standaarde nie. Voorbeelde hiervan is leë koeldrankbottels, gieters, emmers of glasbottels.

Derik Wolmarans van Hinterland Fuels, maan verbruikers om hulself deeglik van die volgende vereistes en riglyne te vergewis.

Hieraan moet plastiese houers voldoen

Ten einde brandstof op te gaar of te vervoer, moet die volgende inligting duidelik op die plastiese houer sigbaar wees:

  • SABS-seël van sertifisering, SANS 1176
  • Vervaardigers identifikasie
  • Vervaardigingsnommer
  • Jaar waarin die houer vervaardig is
  • Die kapasiteit van die houer, aangedui in liter.

Hierdie riglyne moet gevolg word

Die volgende riglyne moet gevolg word, wanneer brandstof by Hinterland Fuels in draagbare houers gestort word:

  • Die houer moet in ʼn regop posisie op die grond geplaas word terwyl die spuitstuk versigtig geposisioneer word en die brandstof stadig gestort word.
  • Houers mag onder geen omstandighede in die kattebak van motors, agterop bakkies of selfs in bote gevul word nie as gevolg van die brand risiko.
  • Dieselkarretjies (sleepwa met n plastiese of metaal tenk) wat spesifiek vervaardig is vir die vervoer van brandstof is aanvaarbaar.

Meer oor die wetgewing

Let wel dat dié regulasies van toepassing is op petrol en diesel, en nie op lampolie (paraffien) nie.

Enige navrae kan gerig word aan die departement van minerale hulpbronne en energie: mediadesk@energy.gov.za or media@dmre.gov.za






Verwante Artikels

Verander Taal

English