Langtermynstrategie nodig vir die beheer van bloubosluise

  • 18 Januarie 2021
  • 1134
  •  senwes
  •  
  •  hinterland



Dit is die mening van dr Tom Strydom, ʼn veearts verbonde aan MSD Dieregesondheid. Dr Stydom verduidelik dat ʼn langtermyn behandelingstrategie vir elke plaas en veekamp opgestel behoort te word, omdat daar geen universele aanbevelings vir die beheer van bloubosluise bestaan nie. Hy meen egter dat die volgende algemene aanwysers vir produsente van hulp kan wees:

Die voorkoms van bloubosluise

Siekte rapportering deur veeartse landwyd het reeds in 2017 interessante statistiek gelewer oor die voorkoms van bloubosluise, asook die siektes waarvoor hulle as vektore dien. Volgens dr Strydom is die voorkoms van parasiete, volgens dié navorsingsbevindinge, betekenisvol meer tydens Mei, Junie en Julie.

Swaar-dragtige kuddes in spaarkampe, wat nie deur die winter bewei is nie, of beeste wat vanaf oesreste terug op natuurlike weiding geplaas word, loop voorts ook die gevaar om swaar besmettings met onopsigtelike onvolwassenes (wat nie opmerklik sigbaar is nie, en lê en wag om op beeste te klim) op te doen.

Seisoenale fokus

Om effektiewe bloubosluisbeheer te verseker, meen dr Stydom dat die nodige strategieë reeds in die begin van die vorige herfs/laat somer in werking moet tree, en oor baie seisoene voortgesit word.

In die lente behoort produsente se fokus te wees om dié onvolwasse bosluise te dood, ongeag van die huidige volwasse bloubosluislading sigbaar op die beeste. Op hierdie manier kan moontlike bevolkingsontploffings later in die seisoen voorkom word, terwyl die risiko vir beeste om rooiwater en galsiekte later in die seisoen op te doen, ook aansienlik verlaag word.

Teen ongeveer middel November kan die eerste piek van volwasse wyfies verwag word, en is dit dan aangewese om ’n langwerkende onderhuidse en inspuitbare middel soos MSD Dieregesondheid se Solution® 3,5% L.A. te gebruik.

Behandelingstrategieë

Voordat daar op ’n dipmiddel teen bloubosluise besluit kan word, verduidelik dr Strydom dat die produsent seker moet wees dat die aktiewe bestanddeel van die middel steeds doeltreffend is vandat hy dit laas op die plaas gebruik het. Indien hy onseker is, of as daar tekens is dat die middel ondoeltreffend is, word dit aanbeveel dat weerstandstoetse op die bosluise by ʼn laboratorium gedoen word. Weerstandsprobleme word bepaal deur die genetiese samestelling van die bosluisbevolking, en nie deur die dipmiddel nie.

Totale benatting word aanbeveel as eerste dipbehandeling in die lente met MSD Dieregesondheid se Taktic® Cattle Spray, veral as die beeste reeds ’n swaar bosluisbesmetting ervaar. Die nawerking van dié middel is ongeveer 3 dae en dit is belangrik om die beeste gedurende hierdie tydperk deur soveel as moontlik van die weikampe te laat beweeg. Op hierdie manier klim baie pas-uitgebroeide onvolwasse bloubosluise op die behandelde diere, en dié word dan op hierdie wyse gedood. “Dit is sinneloos om beeste te dip en dan, vir die duur van die dip se werking, op een kamp se weiding te laat bly”, verduidelik dr Strydom.

Doeltreffende opgietmiddels soos MSD Dieregesondheid se Delete® All wat bewese doeltreffende verspreiding oor die hele liggaam toon, kan gebruik word as opvolg dipmiddel sodra dit lyk asof volwasse bloubosluisgetalle weer begin toeneem. Weereens is dit wenslik om die beeste deur soveel kampe as moontlik te laat beweeg vir die duur van die doeltreffendheid van die gekose opgietmiddel (ongeveer 2 weke).

Let daarop dat bosluise moet byt om die aktiewe bestanddele van ’n inspuitbare, sistemiese middel in te neem. Die bosluise neem ʼn paar dae om te vrek en van die bees af te val. ’n Insekgroeireguleerder kan ook op hierdie stadium gebruik word, wat sal veroorsaak dat die wyfies steriele eiers lê.

Volgens dr Strydom is dit belangrik om te weet dat aanbevelings, soos hierbo genoem, beïnvloed sal word deur bosluisladings. MSD Diere Gesondheid se Taktic® Cattle Spray kan gebruik word vir beheer van swaar besmettings. Laasgenoemde is egter onwaarskynlik indien die strategiese dipplan getrou gevolg is. Delete®All, nog ʼn MSD Dieregesondheid-produk kan gebruik word vir beheer van ligter besmettings, met ander woorde vir roetine gebruik soos nodig.

Besoek vandag nou jou naaste Hinterlandtak of www.hinterland.co.za om meer uit te vind oor MSD Dieregesondheidsprodukte vir die effektiewe bestuur van bloubosluise.






Verwante Artikels

Verander Taal

English