Ent in teen bloednier en beskerm so jou kudde

Volgens dr Faffa Malan, bekende dieregesondheidskenner, is bloednier een van die belangrikste siektes om van kennis te neem as dit kom by skaap- en bokkuddes. Die uitdaging waarmee produsente egter gekonfronteer word, is om die siekte korrek te diagnoseer omdat daar baie ander siektes is wat ook tot skielike vrektes in ʼn kudde kan lei. Hierdie siektes sluit onder meer in geilsiekte, bloedpens, bloedderm, pasteurellose en hartwater.

Malan raai produsente aan om so gou moontlik nadat ʼn vrekte ontdek is, die hulp van ʼn veearts in te roep om ʼn nadoodse ondersoek te doen. Hierdie ondersoek sal help om te bepaal wat die produsent volgende te doen staan.

Meer oor bloednier

Bloednier word veroorsaak deur die epsilon-gifstof van die Clostridium perfringens tipe D-bakterie, wat normaalweg in die dermkanaal van skape en bokke voorkom. Onder sekere omstandighede vermeerder die bakterieë skielik en beïnvloed dit die dier nadelig.

Gunstige omstandighede vir die vorming en verspreiding van die gifstof word byvoorbeeld geskep as skape en bokke skielik van swak grasvelde na uitsonderlike goeie weiding soos lusern, groen koring en groen hawer geskuif word, of wanneer daar vinnig oorgeskakel word na ʼn dieet wat baie ryk is aan proteïene.

Die gifstof verhoog die deurlaatbaarheid van die spysverteringskanaal se wand, sodat die gif maklik deur die liggaam geabsorbeer word. Omdat die gifstof die selle van die bloedvate beskadig, word die diere se niere geaffekteer en kan dit lei tot breindisfunksie, wat weer tot wanfunksionering van die senuweestelsel kan lei.

Lammers met akute bloednier kan binne die bestek van twee ure vrek.

Voorkoming en beheer

Dr Faffa deel die volgende wenke met produsente:

  • In die geval van ’n uitbreking van bloednier, ent dadelik alle diere in die kudde in.
  • Behandel alle diere met ’n langwerkende antibiotika om vrektes te voorkom.
  • Effektiewe voedingsbestuur moet toegepas word om faktore wat tot bloednier kan lei uit te skakel.
  • Identifiseer, merk en kastreer lammers voor die ouderdom van twee maande om so ’n skielike verandering in melk- en voedselinname te voorkom.
  • Herkouers se dieet moet baie stadig verander word.
  • Indien die oorsaak van bloednier se voorkoms onbekend is, is dit beter om al die skape op die plaas vier weke voor ontwurming teen bloednier in te ent.
  • Indien ooie voor lamtyd ingeënt word en die ooie se voedingstatus optimaal is, word die lammers deur biesmelkimmuniteit beskerm as hulle betyds genoeg biesmelk inneem.

* Die oorspronklike artikel het op AgriOrbit verskyn.